Daar is 'n nuwe d6 Toep! Gaan kyk hier om meer te leer.
Laerskool Montagu - Ywer Bring Sukses
Die Monties word aan ‘n wye verskeidenheid kultuuraktiwiteite blootgestel om die kind in totaliteit te ontwikkel. Geleenthede om in verskeie kategorieë soos musiek, koor, spreekkoor, lees, voordrag, redenaars en kuns mee te ding, by kunswedstryde en die Montagu Jeugkunstefees, word benut.
Leerders kry die geleentheid om aan interne asook eksterne redenaarskompetisies deel te neem. Leierskapvaardighede word ontwikkel en leerders leer om met selfvertroue hul standpunt voor ‘n gehoor te stel.
‘n Jaarlikse GF Kultuurmiddag en IF Kultuurmiddag word aangebied waar die Monties saam met ander skole aan redenaars, vasvra en koorsang deelneem.
‘n Wye algemene kennis word aangemoedig deur die hou van gereelde vasvra-kompetisies. Leerders skryf aan die einde van elke kwartaal ‘n algemene kennis toets in klasverband waarna ‘n wenner jaarliks aangewys word in Gr.1-3 en Gr.4-7.
‘n Liefde en waardering vir sang en musiek word deur die Juniorkoor (Gr.1-3) en die Seniorkoor (Gr.4-7) by leerders gekweek. Albei kore tree gereeld met groot sukses op. Privaat musieklesse word by die skool aangebied. Leerders wys ook hulle talente by ons jaarlikse Senior Burgerdag.
Die skoolkonsert of revue, waaraan alle leerders elke drie jaar deelneem, is ‘n hoogtepunt in ‘n Montie se laerskoolloopbaan.