ONS GESKIEDENIS
Op 5 September 1853 is die eerste skooltjie deur mnr. Bernardus Johannes Keet op Montagu geopen. Die leerlingtal was 16 en die verwagting was dat dit spoedig tot 30 sou aangroei.
Aanvanklik is daar in die kerk skoolgehou, maar in 1856 het die kerkraad ‘n skoolgebou vir die doel gehuur. Sake wou nie vlot verloop nie, maar met die aanstelling van mnr. J.G. Euvrard as skoolhoof, het onderwys op Montagu werklik vir die eerste keer momentum gekry.
Getalle het in so ‘n mate aangegroei dat daar in 1893 met die bouwerk aan ‘n nuwe gebou begin is. Voor die einde van dieselfde jaar is die gebou op die hoek van Piet Retief- en Rawsonstraat voltooi. Op 19 Oktober 1893 is die skool ingewy en die leerlingtal het op 235 gestaan.
Ten spyte van gereelde verbeterings en aanbouings aan die skoolgebou, het die fasiliteite te min en te klein geraak. In die laat 1960’s is daar dus besluit om ‘n nuwe, verbeterde gebou op te rig. Daarvandaan die pragtige terrein in Langstraat met uitstekende sportgeriewe.
Vanaf 1975 tot April 2002 het die skool die voorreg gehad om mnr. E.H. Punt as skoolhoof te hê. Hy het die skool en die gemeenskap met onderskeiding gedien. In sy tyd word verskeie veranderinge en verbeteringe aangebring om die skool op akademiese-, sport- en kulturele gebied iets te maak waarop die gemeenskap met reg kan trots wees.
Mnr. Werner van Huyssteen word vanaf Mei 2002 aangestel en hy dien as skoolhoof tot en met Desember 2010. Op 24 Maart 2003, word die skool erg beskadig deur ‘n vloed. Onder leiding van mnr. Van Huyssteen, word die skool pragtig herstel. Die skool toon uitstekende groei en nuwe horisonne word bereik.
Mnr. Jan Kruger word in Julie 2011 as nuwe skoolhoof aangestel. Met die ondersteuning van die beheerliggaam word verbeteringe aan die geboue en terrein deurlopend gedoen. Elektroniese media ter ondersteuning van die kurrikulum word uitgebrei, tot voordeel van ons leerders.

SKOOLLIED
Ons gee jou net ons beste
Ons offer wat jy vra
Van ooste tot die weste
Sal ons jou boodskap dra
Met hoop, geloof en liefde
Sal ons die toekoms bou
Ons sal jou naam steeds hoog hou
Montagu Laerskool
Ons sal jou naam steeds hoog hou
Montagu Laerskool