Gedragskode vir leerders
Inleiding
Definisie:'n Gedragskode vir leerders in terme van die SA Skolewet van 1996 bevat reëls en beginsels om goeie gedrag te bevorder en om ongewenste gedrag in die skoolsituasie te hanteer.
Die gedragskode is gebaseer op die skool se visie om Monties toe te rus vir die toekoms deur hulle volle potensiaal te ontwikkel.
Opvoeders:Opvoeders speel vanselfsprekend ‘n deurslaggewende rol by skooldissipline en hulle moet in hulle interaksie met leerders op ‘n wetlik korrekte en gedissiplineerde wyse optree.
Ouers:Dissipline begin primêr by die ouerhuis. Daar word verwag dat die ouers/voogde die gedragskode van Laerskool Montagu sal ondersteun. Ouers speel ‘n uiters belangrike rol en hul volle samewerking en ondersteuning word dus verwag. Ouers onderteken die gedragskode wat as bewys van aanvaarding dien.
Wetlike raamwerk
- Minister van Onderwys: Verantwoordelik vir die formulering van die beleid vir die kontrole en dissipline van leerders (Wet 27, 1996)
- Die beheerliggaam van elke skool is verantwoordelik vir die aanvaarding van ‘n gedragskode vir leerders (Wet 8(1) van Wet 84 van 1996)
- Die bogenoemde moet in lyn wees met die fundamentele regte gewaarborg deur die grondwet (Wet 108 van 1996) en ander verwante wetgewing soos gelys hieronder:
|
Doelwitte van gedragskode
- Riglyne waarvolgens opgetree moet word
- Optrede vir die regstelling van ongedissiplineerde gedrag
- Om te verseker dat leer plaasvind
- Veilige omgewing skep
- Te lei tot selfdissipline
- Grense te stel
- Oop kanaal met ouers te vestig
- Om tot voordeel van die leerder op te tree
Beleidsbeginsels
- Alle partye aanvaar die verantwoordelikheid vir hul gedrag.
- Die daarstelling van wedersydse respek tussen alle betrokkenes.
- Bevordering van selfdissipline
- Motivering van positiewe gedrag en houding
- Die kweek van ‘n gedissiplineerde omgewing en -kultuur
Volledige Gedragskode vir Leerders (2021)
Algemeen
- Niemand mag die personeel gedurende skoolure spreek nie, tensy verlof persoonlik by die skoolhoof verkry is, sodat klasonderrig nie onderbreek word nie.
- Indien ouers telefonies met van die personeel wil skakel, behoort dit liefs gedurende pouse te geskied.
- Om ongerief vir uself te bespaar, word dit aanbeveel dat ouers ‘n afspraak vroegtydig by die sekretaresse maak, voordat die skoolhoof of lede van die personeel gespreek word.